GAAN NA OUER PLASING AAN DIE EINDE VAN ELKE BLADSY.
Num 19 Vers 2: Dit is die wetsinsetting wat die Here beveel het deur te sê: Neem ‘n rooi koei sonder gebrek, waar geen liggaamsgebrek aan is, en waarop geen juk gekom het nie.
Vers 3: En gee haar aan die priester, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag.
Vers 4: En die priester moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel.
Vers 5: Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand.
Vers 6: En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi.
Vers 7: Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand onrein wees.
Vers 8: Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere was en bad, en sal tot die aand onrein wees.
Vers 9: En ‘n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ‘n rein plek neersit. En dit moet vir die vergadering bewaar word vir die reinigingswater. Dit is ‘n sondoffer. (Dit is ‘n reinmaking vir sonde. Sien engelse Bybel.)
Vers 10: En die een wat die as bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand onrein wees. En dit moet vir julle en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef, ‘n ewige insetting wees.
Vers 11: Die een wat aan ‘n dooie, enige lyk van ‘n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees.
Vers 12: Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig. Dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie.
Vers 13: Elkeen wat aan ‘n dooie raak, aan die lyk van ‘n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die Here, en die siel moet uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees; sy onreinheid is nog aan hom.
Vers 14: Dit is die wet: As iemand in ‘n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.
Vers 15: Ook al die oop goed, wat nie met ‘n deksel toegebind word nie, is onrein.
Vers 16: En elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard verslaan is, of aan ‘n dooie, of aan ‘n mens se doodsbeen of aan ‘n graf, sal sewe dae lank onrein wees.
Vers 17: Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand is, en daar vars water in ‘n pot op gooi.
Vers 18: En ‘n rein man moet hisop neem en dit in die water insteek en op die tent sprinkel en op al die goed en al die persone wat daar gewees het; ook op hom wat aan ‘n doodsbeen of aan een wat verslaan is, of aan ‘n dooie of aan ‘n graf geraak het.
Vers 19: En die reine moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel en hom op die sewende dag ontsondig. Dan moet hy sy klere was en hom in die water bad, en in die aand sal hy rein wees.
Vers 20: Maar as iemand onrein word en hom nie ontsondig nie, dan moet die siel uitgeroei word onder die vergadering, want hy het die heiligdom van die Here verontreinig. Reinigingswater is op hom nie uitgegooi nie, hy is onrein.
Vers 21: En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees. En die een wat die reinigingswater sprinkel, moet sy klere was, en die een wat aan die reinigingswater raak, sal tot die aand toe onrein wees. (Ewige insettings is nie net totdat Jesus gekom het nie.)
Vers 22: Ja, alles waar die onreine aan raak, sal onrein wees; en die persoon wat aan hom raak, sal tot die aand toe onrein wees.
(Die hele Bybel, met nog 440 ander onderwerpe gratis op die Internet. Gaan na https://dieversteekteverse.blogspot.com Indien u nie dadelik by die boek uitkom nie, soek eers: BLOG SEARCH ENGINE en dan die boek. )
Dinsdag 16 Maart 2010
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking